Ek kan die fantasieverhale wat ek al gelees het, seker nog op een hand tel, maar ek het tog gekies om Die Sproetebessies en die hart van die Swart Roos te lees, om twee redes. Ek is gek na goeie jeugverhale en ek hou van Troula Goosen se skryfstyl.

My gebrekkige ervaring met fantasie ten spyt, het ek al ‘n paar gemene delers geïdentifiseer: die gotiese, die magiese, grafte, “shapeshifters”, misterieuse ou geboue, dikwels met kelders, onheilspellende musiek. Die Sproetebessies kwalifiseer op elke punt. Die kunstige omslagillustrasie deur Andrea du Plessis spreek ook daarvan.

Milan, Andante en Nova was bekend as die Sproetebessies, welke bende-aktiwiteit hulle ontgroei het. Die drie vriendinne woon ‘n popfees by waar Tyrion, ‘n groot sensasie, gaan optree. Die aand verloop egter vreemd en loop uit op ‘n gevaarlike avontuur. Hulle word genooi na ‘n slypskool by Die Swart Roos en van meets af aan is dinge vreemd en kriewelrig, veral vir Milan, die mees nugtere van die drie meisies. Hulle word genoodsaak om die speurvermoëns van die Sproetebessies te laat herleef, ter wille van oorlewing maar dit kom nie die mas op teen die boosheid van Die Swart Roos nie. Hulp kom uiteindelik uit ‘n baie onverwagte oord.

Madame Rosa het my hare laat rys met haar planne om die jongmense se geheime talente te ontwikkel met makabere metodes, aangevuur deur haat en vergelding. Dit blyk mettertyd dat die hele scenario gemik is op die popmusiekindustrie. Ek gaan niks verder verklap nie, buiten om melding te maak van die goeie teenstelling tussen wat die gewaande Hart van die Swart Roos is, en die liefde, wat éíntlik die hart van die kosmos blyk te wees. Liefde wat verras, moet ek bysê, maar lees gerus self hierdie oulike toevoeging tot die fantasie- en jeuggenres.

Die Sproetebessies is uitgegee deur Human & Rousseau, ‘n druknaam van NB Uitgewers. Koop dit by Graffiti teen ‘n lekker afslag by hierdie skakel.