Die naam van Dina Botha is sinoniem met Romanza. Báie Romanzas, om presies te wees. Ek sit met Net vir ‘n seisoen of twee, haar nuutste titel, in my hand, maar voordat ek dit lees wil ek eers ‘n paar vrae rig aan hierdie skrywer wat ons so gereeld met nuwe boeke bederf.

V:  Jou naam is meer as bekend onder romanselesers, maar wie was Dina Botha voordat sy ‘n suksesvolle skrywer geword het?

A:  Ek was maar ’n redelik vervelige werkende vrou en ma. Bietjie van ’n introvert wat nie baie vriendinne om my versamel het nie. My lewe het maar meestal om werk gedraai. Soos dit met jong mense gaan, jy wil geld maak en jou lewe so gou moontlik op ’n stabiele plek kry.

Op skool was ek mal oor Afrikaans en opstelle skryf. Ek dink ek het toe al heimlik daarvan gedroom om eendag my eie storieboek te skryf, maar dit was maar net een van daardie leë onbereikbare versugtinge wat jy nie werklik glo nie.

Na matriek wou ek joernalistiek gaan swot, maar op aandrang van my pa en ma het programmering gewen as ’n goeie beroep vir ’n meisie en dis waar ek toe in die IT bedryf beland het. Vir meer as 20 jaar.   

V: Wat het jou laat besluit om jou beroep te laat vaar en voltyds te skryf?

A: Op 37 het ek vir die derde keer ma geword en die jaar daarna weer. Met twee laatlammetjies en twee ouer kinders was daar skielik baie meer uitdagings gewees. Ek het uit my werk bedank om die hele voltydse tuisbly mamma experience ten minste een keer in my lewe te ervaar.

Na ’n paar jaar het ek egter besef dat Ma speel nie heeltemal my ding is nie. Teruggaan IT toe wou ek nie. Ek het begin wonder wat ek nou eintlik, vóór my ouers namens my besluit het, met my lewe wou doen. Die antwoord was dadelik daar. Ek wou skryf. My droom om eendag ’n skrywer te word, het net dormant gelê en wag. So, op 40 het ek my eerste storie geskryf. Met rampspoedige gevolge. Ek het net mooi alles verkeerd gedoen. Die uitgewer kon nie anders as om dit af te keur nie. Maar sy het darem gesê ek het potensiaal en dat ek weer moet probeer. Dis presies wat ek gaan doen het. Ek het ’n volgende storie geskryf, dié keer volgens die uitgewer se voorskrifte en dit is na nog ’n bietjie gestoei toe wel aanvaar.

 V: Het jy formele opleiding gehad in die skryfkuns?

A:  Nee, ek het geen formele opleiding ontvang nie. Wat alles soveel moeiliker vir my gemaak het. Ek moes alles op die harde manier leer. Maar ek moet sê, ek het verskriklik baie gelees wat baie gehelp het.

Ek het vroeg in my skrywersloopbaan al besluit dat, aangesien dit my droom is, ek ’n baie dik vel gaan ontwikkel. Kritiek oor my skryfwerk is nie op my as persoon gemik nie. Die uitgewer weet nie eens hoe Dina Botha lyk nie, het ek myself altyd getroos. Die mense wat my manuskrip onder oë kry en verslag of kritiek lewer, weet soveel meer as ek. Al wat ek moes doen was om elke stukkie raad, kritiek en aanbeveling te vat en te gaan toepas. Dit was basies my leerskool gewees.

V: Die vraag waarop almal wag: hoeveel Romanzas het jy al geskryf?

A:  Net vir ’n seisoen of twee is my 78ste storie. Ek het in my stoutste verwagtinge nie gedink dit sal ooit gebeur nie. Ek was maar te dankbaar dat ek 50 kon haal. 28 stories later is net ’n seën uit die Here se hand.  

V: Wat was jou heel eerste Romanza en is daar een wat vir jou besonder spesiaal was, of een wat vir jou moeilikheid gegee het?

A: Ek kon nooit die storie, of dalk moet ek eerder sê die karakters, in my eerste manuskrip laat gaan nie. Ek kon dit ook nie oor my hart kry om die manuskrip te delete nie. Dit het net nie reg gevoel nie. So, Magriet en Markus se storie het maar daar iewers in ’n folder gelê en wag vir beter dae.  Jare later, toe ek op soek na ’n nuwe storielyn was, het ek van die manuskrip onthou. Ek het die twee se liefdesverhaal oorgeskryf en ’n Man op sig het as my 17de Romanza die lig gesien.

V: Met 78 Romanzas op jou kerfstok, hoe bestuur jy die risiko dat jy name of storielyne herhaal?

A:  Ek wou eers sê dit raak toenemend moeilik om nuwe storielyne en unieke karakters te skep, maar dis nie regtig so nie. Daar is altyd iets wat ’n nuwe storie trigger. Iets wat ek sien of wat ek hoor kan dadelik my creative juices aan die gang kry. Byvoorbeeld. Verlede jaar se onluste en plundering was die perfekte agtergrond vir my nuutste verhaal Net vir ’n seisoen of twee gewees. Daar was soveel visuele uitbeelding op die nuuskanale gewees dat ek nie anders kon as om dit te gebruik nie. ’n Ander voorbeeld is: Liewer as myself het ek tydens 2020 inperking geskryf en die storielyn gaan uiteraard oor twee mense wat saam ingeperk word. Ek gebruik dus alles wat ek op daardie oomblik tot my beskikking het. Wat karakters betref en hier gaan ek ’n bietjie mal klink, maar hulle skep hulle self in my kop. Sodra ek begin skryf kry hulle gestalte en ’n eie identiteit. Selfs ’n eie stem. Gelukkig verdwyn hulle na die storie net so vinnig weer uit my kop.

V:  Ek weet jy het ‘n reeks van vier Kaapse verhale geskryf. Ek het eers begin Romanzas lees toe jy al by nommer 50 was, daarom die volgende vraag:  Was daar reekse onder die Romanzas, of verkies jy alleenstaande titels?

A: Ek doen nie doelbewus reekse nie. Dit gebeur partykeer net vanself. Ek sal ’n storie skryf en jare later onthou dat daar ’n interessante broer in die of daai verhaal was wat ek moontlik kan gebruik. Dis hoe ek drie verhale oor die Du Pre miljoenêr seuns geskryf het. Haar eie miljoenêr, Miljoenêr in ’n teekoppie en Miljoenêr van harte.

Dan was daar die Krynauw broers (almal dokters) wat met die jare elk sy eie storie gekry het. Die Rooikop se lot, Alles is perfek (wat my ’n Woordveertjie besorg het), Soen my, asseblief en die vierde Krynauw dokter se verhaal wat in Augustus 2022 verskyn. 

Soos jy seker nou al agtergekom het, ek laat my meer deur die oomblik lei as wat ek vooraf sit en beplanning doen, maar dit werk die beste vir my.          

V: Hoe lank skryf jy aan die 44 000 woorde wat ‘n Romanza opmaak?

A: Dit varieer maar, afhangend van hoe die storie verloop en of ek ’n sperdatum het. Dan weet ek goed hoe om my te roer. Ek het al ’n storie in drie weke geskryf en die een waaraan ek nou werk rek nou al vir maande uit. Ek moet bieg, ek word nogal vies vir myself as ek soos nou, laks raak. As ek nie weet wat om te skryf nie sal ek solank met ’n volgende storie begin. Ek het soms drie stories wat so iewers in die lug hang. 

V: Wat is jou geheim om so gedissiplineerd boek na boek op te tower?

A: Ek dink … dis omdat ek rêrig geniet wat ek doen. Ek wil niks anders doen nie. Ek wil selfs sê ek is ’n bietjie verslaaf daaraan. As ek nie skryf nie voel ek skuldig en onvervuld.

Uit ’n geestelike oogpunt: ek weet in my hart dis die talent wat die Here my gegee het. Daar was ook ’n rede hoekom dit eers in my veertigs afgeskop het. Ek was meer volwasse en verantwoordelik. Soveel vroue het met die jare vir my boodskappe gestuur net om te sê wat my stories vir hulle beteken het. Hulle is deur moeilike tye, maar my liefdesverhale herinner hulle aan hoe mooi die liefde en hoe opwindend ’n goeie verhouding kan wees. Die beste kompliment wat iemand my gegee het, was toe ’n jong vrou gesê het sy gaan eerder ’n bietjie wag op haar nommerpas held. Sy gaan nie sommer die eerste en beste ou gryp net omdat sy bang is sy kry nie iemand nie. Sy gaan ook iemand soek met held eienskappe, soos wat sy in my boeke raaklees. Sy gaan wag vir iemand wat haar gaan respekteer, haar wil koester en haar vir altyd wil hê. Dis dan wanneer ’n mens besef jou werk maak tog saak.  

V: Jou naam is baie gereeld op topverkoperlyste en kortlyste. Vertel ons van jou ATKV Woordveertjies, wat sekerlik hoogtepunte was in jou skrywersloopbaan.

A: My Woordveertjies was nie net my grootste verrassings nie, maar ook die grootste eer ooit. Indien my huis ooit sou afbrand is dit die drie goed wat ek waarskynlik eerste in my handsak sal druk. Om erkenning vir jou werk te kry is ’n ongelooflike groot geskenk.  Die drie Romanzas wat Woordveertjies ontvang het, was: 2020 Halsoorkop verlief, 2018 Alles is perfek , en 2013 Boks vol soentjies.  

Baie dankie dat jy jou skryfdinge met ons gedeel het, Dina. Alle sukses met jou nuwe Romanza, Net vir ‘n seisoen of twee, wat aanlyn en by boekwinkels beskikbaar is.  

Koop Dina se nuutste boek hier

Bestel die e-boek hier