Dit was nogal goed om bietjie bestekopname te doen van my betrokkenheid by boeke en skrywers. Dít nou toe Louise van der Merwe, romanseskrywer en omroeper by LeesDit op LifeFm, my behoorlik met vrae gepeper het. Die onderhoud is op 29 April uitgesaai, en ek moet bieg dat die trane geloop het aan die einde van die uur.

Louise het geensins verklap dat sy vooraf stemboodskappe gekry het van ses Romanzaskrywers nie. Ek wil ‘n baie spesiale dankie rig aan René van Zyl, Alta Cloete, Kristel Loots, Ilze Beukes, Didi Potgieter en Rina Cilliers. Ek beskou julle as vriendinne en julle woorde moedig my aan om hierdie seisoen in my lewe nog ‘n bietjie te rek.

Ek het gister op LeesDit se Facebookblad ‘n paar interessante vrae beantwoord wat tydens die uitsending ingestuur is. As daar iemand is wat nog na die uitsending wil luister, kan julle dit vind by hierdie skakel.

Intussen het ek die rol van vraesteller oorgeneem en vraag-en-antwoord gesprekke gevoer met ‘n goeie klompie skrywers wat nuwe boeke op die rak het. Ek is meer as tevrede met die insiggewende antwoorde wat hulle so goedgunstiglik verskaf. Dit is baie lekker om iets te wete te kom oor die persoon agter die boekomslag, sy of haar werkswyse en voorkeure. Lees gerus vroeëre bloginskrywings van hierdie gesprekke. Ek probeer om die hele spektrum van genres te dek met die gesprekke, en het reeds romanse, verhoudingsromans, kinder- en jeugverhale, spanningsverhale en geestelike nie-fiksie gedek.

En nou, terug na my nuutste stel vrae aan nog ‘n gevierde romanseskrywer.