‘n Verskeidenheid van bekende name het saamgespan om hierdie skitterblink publikasie, saamgestel deur Marieta Nel, die lig te laat sien. Daar is bydraes deur onder andere De Wet Hugo, Nerine Ahlers, Jaco Jacobs en Troula Goosen, om maar ‘n paar te noem.

Die aanbieding is gemik op leerders in Graad 4 tot 7 en spog met ‘n rits kortverhale, volksliteratuur, poësie en selfs drie drama’s wat leerders kan opvoer. Die titel van die bundel is juis ‘n prettige drama deur Fanie Viljoen, kompleet met karakterlys, dekor en rekwisiete.

Die QR-kode met stemopnames van heelparty van die tekste, is ‘n gawe bonus. Dit het byna gevoel asof iemand uiteindelik verstaan dat oumas wil lees en hekel tegelyk! Dit sommer so tong-in-die-kies. Ek glo hierdie bonusmateriaal sal goed aangewend kan word in klasverband.

Lapa uitgewers het onderneem om ook ‘n onderwysersgids beskikbaar te stel met addisionele inligting oor die tekste, wat geoormerk is vir die kwartaal drie letterkundeprojek, deel van die CAPS-kurrikulum. Die volg van die CAPS-kurrikulum is egter glad nie ‘n voorvereiste om hierdie bundel van harte te waardeer nie. Ek wou byvoorbeeld vinnig ‘n paar kortverhale lees om die strekking van die boek te beoordeel, maar voor ek my kon kry, het ek die hele boek deurgedraf.

Bestel die gedrukte boek hier, en die e-boek hier