Moet asseblief nie die fout maak om te dink dat jy hierdie kinderboek sommer vinnig gaan kafdraf nie. Ek het reeds by die foto-muur vasgehaak en my verkneukel aan die fyn woordspeling in die name en verskeidenheid van katte wat in hierdie nuwe boek van De Wet Hugo verskyn. Trouens, die slim woordkeuses was vir my een van die uitstaande kenmerke van hierdie publikasie. Ek sal op elke bladsy meerdere voorbeelde kan aanhaal om my punt te staaf, maar ek sal volstaan by Juffrou Katarina Katoliek, die skoolhoof van Laerskool Katedraal!

Die teks word skitterend gekomplimenteer deur die illustrasies van Martinus van Tee. Leo, ‘n leeuwelp wat homself beskou as die leierleeu – sy pa is immers Burgemeester Katz – moet leer dat ‘n mens iemand nie sonder feite moet oordeel nie. Die waarde van vriendskap en samewerking word ook beklemtoon in die oulike storielyn. Ek hoop dat ouers en onderwysers wat hierdie boek met kinders gaan deurwerk, moeite sal doen om veral aan die jonger lesers, die nuanses agter die heel leesbare teks, uit te wys.

Hierdie publikasie, uitgegee deur Human & Rousseau, ‘n druknaam van NB Uitgewers, is gemik op lesers van 6-9 jaar, maar oupa en oumas, ouer sibbe en ouers, gaan dit beslis ook kan geniet. Ek het, sonder twyfel! Dit is ook in Engels beskikbaar as Catastrophe.