Die goeie openingstoneel van debuutskrywer, Alicia Hanekom, se Romanza, Boerefeetjie, plaas die leser eensklaps binne die situasie waarin ‘n stadsmeisie, Nina, haar bevind. Sy probeer vrou-alleen boer op haar oorlede ouers se plaas, met al die eise wat dit meebring. Wat egter nie oortuig nie, is dat sy en haar buurman mekaar eers na ses maande in die oë kyk. Hy was weliswaar “‘n tydjie oorsee”, wat ek aanvanklik misgelees het, want boere is mos nie sommer lank weg van hulle plase af nie.

Nina en Jaco het ‘n geskiedenis, maar net soos tien jaar gelede is daar dieselfde venynige antagonis in die prentjie wat steeds daarin slaag om hulle verhouding in die wiele te ry. Nina probeer haar hart bewaak en skop daarteen om aan Jaco die voordeel van die twyfel te gee.

Die skrywer ken haar onderwerp. Sy is immers met ‘n boer getroud en woon in die omgewing waar die storie afspeel. Sy is duidelik goed taalvaardig en gebruik vergelykings en ryke beskrywings kwistig, dalk effens te veel só. Met ervaring gaan die skrywer waarskynlik ‘n goeie balans vind. Ek glo hier is potensiaal vir goeie romanses uit haar pen in die toekoms.

Koop die gedrukte boek hier.

Koop die e-boek hier.