Omdat daar klaarblyklik altyd ’n rede is vir liefde, ontgin die immergewilde Elsa Winckler daardie redes in ’n reeks vurige romanses. Omdat jy jy is, Omdat jy my liefhet, Omdat ons saam is, Omdat jy die een is, Omdat jy my gesoen het… Een na die ander het die Mulders, die Erasmusse en die Vissers hulle pasmaats gevind met die hulp van die geheimsinnige Skim, ’n hond wat telkens so saam met Kupido op die toneel verskyn.

Daar is een Erasmus dogter en een Visser broer oor wat nog los rondloop, maar dieselfde probleem staan weer tussen die romantiese Christie en die held. Reinier wou dit nie erken nie, maar hy het ook die komplekse oor trou wat dinge vir sy broers moeilik gemaak het. Hy wil nie trou nie want dan is daar geen risiko van verlies nie. Maar uiteindelik moet hy besef dat hy by Christie wil wees, “omdat alles sin maak by jou.”

Christie se passie en haar bydrae tot die familiesaak, is dié van onder andere bloemiste. Dus word die betekenis van blomme oulik by die verhaal ingewerk.

Die agtergrond van die Visser broers inaggenome, volg die storielyn dus in breë trekke weer die resep van die vorige paar stories met hormoongedrewe manne wat sukkel om vrede te maak daarmee dat hulle eintlik meer as aande en nagte saam wil hê. Wanneer haar derde dogter swaar kry as gevolg van ’n Visser, word ma Alida ’n gedugte teëstaander en speel sy nogal ’n beduidende en bevredigende rol in die verhaal.

Winckler aanhangers kan hierdie Romanza, uitgegee deur Lapa, maar gerus aanskaf, want dit is propvol sterre wat ontplof en temperature wat styg.

Koop die gedrukte boek hier

Koop die E-boek hier