Dit is vir my ’n interessante tyd van die jaar wanneer uitgewers mens begin herinner dat daar ’n splinternuwe jaar wink, nie te ver in die toekoms nie. Een na die ander bundel met dagstukkies kom in hierdie tyd van die jaar oor jou pad, elkeen met sy eie aanslag en waarde wat dit toevoeg tot jou stiltetyd.

Ek vertel graag van ’n besondere selfpublikasie wat ek vandag aangeskaf het. Katie Moolman het in 2019 ’n dagbeplanner uitgegee, en het weer vanjaar die proses aangedurf. Die resultaat is die pragtige Genadepad van 2022. Buiten die gewone jaarbeplanners vir 2022 en 2023, skoolkwartale en openbare vakansiedae, is daar ’n magdom ander elemente wat vermelding regverdig.

Elke maand van die jaar het ’n bladsy vir notas, ’n begroting en ’n oorsigbladsy. Drie dae per bladsy verskaf ruim plek vir aantekeninge en afsprake. Dan spog die bundel met ’n wye verskeidenheid van leesstof, wat oordenkings, getuienisse, resepte, staaltjies in ligter ruim, aanhalings en nog baie meer insluit. Die skrywer inkorporeer werk van bekendes, soos byvoorbeeld die baie bekende “The hour that changes the world”, van Dick Eastman, oor gebed en Corrie ten Boom se “Tramp for the Lord”.

Hierdie unieke dagbeplanner kan verder ook as ’n Bybelleesplan ingespan word. By elke dag van die maand verskyn die Skrifgedeelte om te lees, en agter in die boek is ’n opsomming van die gedeeltes wat gedek word. Daar is ook die oplossing vir die Woensdagskattejag wat die gebruiker gaan uitdaag om te bepaal waar ‘n teksvers verskyn.

Genadepad van 2022 kan direk by Katie Moolman bestel word by 0720999241 teen die bekendstellingsprys van R150. ‘n Praktiese Bybelstudie, Ons bou ’n huis, is beskikbaar teen R40. Indien beide bestel word is die pakketprys R180. Posgeld van R60 ekstra, vrygestel vir 10 of meer kopieë.

Gaan blaai gerus op Katie Moolman van Gass se Faceboekblad rond vir meer inligting en foto’s, asook ‘n kykie na ‘n tweede Bybelstudiegids, Potpourri, wat later vanjaar beskikbaar gaan wees.