Nadat ek die nuwe Madelein Rust klaargemaak het, was ’n bietjie magic presies wat ek nodig gehad het om weer my ekwilibrium te herstel. Die magic van Theresa van Baalen se nuutste tienerverhaal was die perfekte lees om my weer te laat glo in basiese goedheid en verwondering oor klein dingetjies soos melkpaddatjies en sterrereën.

Daar is wel waardevolle lesse en dieper sake vervleg met die gemaklike storielyn, waarvan die gevaar van perfeksionisme en voorskriftelikheid uitstaan. Tydens ’n vakansie in McDougallsbaai, moet Janke se ma uiteindelik teenoor haar mense erken dat sy oorbeskermend is en almal se lewens probeer reel. Haar ommeswaai is eintlik ’n bietjie té volmaak, maar hoekom nou ’n mooi wending bederf met terugslae! Dan is daar ook Stefan se mooi lewensuitkyk: “Ek kies om gelukkig te wees…” (bl. 55) wat vir elkeen, jonk en oud, stof tot nadenke kan wees.

Die vakansieromanse tussen Janke en Stefan is baie mooi uitgebou. Die twee buurseuns se verlies van hulle ma word sensitief hanteer. Dit was vir my aangenaam om ‘n verhaal vir jongmense te lees wat sonder geweld en lyflikheid aangebied is, hoewel daar sprake is van ’n kaping en gevolglike lewensverlies. ’n Geslaagde boek vir jonger tieners.

Uitgegee deur Lapa, en kan hier bestel word.

Bestel die E-boek hier