25 Trappe na benede is ’n ontstellende spanningsverhaal wat jy klaar lees en dan toelaat om behoorlik in te sink. Jy het tyd nodig om die omvang van die boosheid wat kan vatplek kry in mense, na behore te probeer verwerk, indien dit hoegenaamd moontlik is. Dan kom jy dalk uiteindelik uit by die plek waar jy “die ragfyn lyn tussen liefde en vrees en haat” (bl. 63) kan begryp.

Waar Madelein Rust se vorige boeke gefokus het om die aard van misdade en die psige van die misdadigers, verskil die aanslag van hierdie nuwe boek heeltemal. Renée leef vir so lank as wat sy kan onthou, onder die venynige diktatorskap van haar ma, met ’n ontoereikende toelaag uit ’n trustfonds. Sy vul haar inkomste aan as die waarseêr, Lisbé. Haar enigste vertrouelinge is haar vriendin en buurvrou, Kathy, en Oom Kierie, die kok in die Roux-huishouding van Renée se ma. Renée is ’n wrak, met gemoedsversteurings, depressie, nagmerries en drankverslawing.

Die storielyn ontplooi behendig langs ’n paar afsonderlike lyne met Renée as die gemene deler. ’n Aantreklike speurder, Hermann, is telkens ook op die toneel, en ek het aanvanklik selfs getwyfel aan sy bona fides, midde al die dramatiese gebeure wat hulself afspeel. Tog is hy die een wat haar staande hou wanneer hartseer haar finaal verpletter. “Daar is geen perke aan hartseer nie. Dis soos ’n kleed wat onverwags oor alles gaan lê en dit wat nog mooi is, toemaak sodat geen mens dit meer kan sien nie.” (bl. 185)

Maak jouself gerus gereed om slaap te verloor, want jy gaan net so angstig soos Renée wees om uit te vind wat skuil in die kelder aan die onderpunt van vyf en twintig trappe. Briljante skryfwerk deur Madelein Rust, wat volgens haar eie woorde tydens ’n onderhoud, ’n groot stuk van haarself in hierdie boek ingeskryf het.

Die boek is uitgegee deur Lapa en kan hier bestel word.

Bestel die E-boek hier