Die openingstonele van Hart van kant oorvleuel met die slot van die vorige boek in die reeks, wat nogal gaaf is, want dit dien sommer as ’n brug tussen die storie van Christi en Richard en die voortsetting van die sage van die mense van Steely Hills en Mountain Valley. Modeontwerper, Amanda White, spesialiseer in trourokke en het die gawe om presies die regte rok vir die regte persoon te maak. Daarom is dit met groot hartseer dat sy moet toekyk hoe ’n rok, totaal buite haar smaak, vir haarself gemaak word deur ’n ontwerper by wie sy geen aanklank vind nie.

Dit is egter net deel van haar probleem met haar voorgenome huwelik. Sy het haar hart verloor op ’n veearts van Colorado, maar haar lojaliteit jeens haar pa verhoed haar om haar hart te volg. Dit is een van die romanses waar, met die lees daarvan, ek verlig was dat ’n gelukkige einde gewaarborg word, want reeds naby die einde van die boek, wou dinge steeds nie vlot vir Clinton en Amanda nie.

Buiten die liefde wat blom oor verskille in welvaart en agtergrond heen, word die waarde van vriendskap ook beklemtoon. Amanda ervaar vir die eerste keer in haar lewe die hartlikheid van vriendinne wat sy gevind het in die Steely susters. Terselfdertyd laat die gebeure in hierdie fase van haar lewe haar opnuut besef hoe min erg sy het aan statusbeheptheid.

Karin White moet my gunsteling karakter van die storie wees. Sy sien dinge raak en doen boonop iets daaromtrent. ’n Mooi voorbeeld van iemand wat nie toelaat dat aansien haar waardes belemmer nie.

Ek is baie bly dat Amanda White haar eie storie gekry het in hierdie oulike reeks, en sien uit na die volgende liefdesverhaal uit die gemeenskap waarin sy haar nou gaan vestig.

Koop die gedrukte boek hier

Koop die E-boek hier