Zelda Bezuidenhout is ’n suksesvolle en bekroonde skrywer, met veral haar jeugverhale wat baie aandag gekry het in die media. Ek het nog nie voorheen die voorreg gehad om van haar boeke te lees nie. Toe dit dus begin gons op Lekkerleesboekrak en ander platforms oor ’n nuwe roman vir volwasse lesers uit haar pen, het ek ore gespits. Veral toe daar woorde soos “mediese spanningsverhaal” die rondte begin doen. Dit is immers iets wat nog nie veel in Afrikaans ontgin is sover my kennis strek nie.

Die titel was nog ’n faktor wat my nuuskierigheid gaande gehad het. Só ’n titel kan mens eenvoudig nie ignoreer nie. Dit het my gedagtes in verskeie rigtings laat koers kry, maar, moet ek bieg, die kinkels in die verhaal het ek nie voorsien nie. Vanaf die proloog tot by die sagte einde, nadat die spanning verby is, was ek uitverkoop aan die verhaal. Die verhaal het elemente van vele genres, waarvan verhoudings die grondslag vorm. Magdaleen is die oorblywende suster van ’n identiese tweeling en wroeg met die rouproses. Haar onvermoë om iets vir haar suster te kon doen, noop haar om ’n gewaagde ketting van gebeure te inisieer om wel ’n verskil te maak in die lewe van Ben, ’n verlamde seun.

Haar vriendskap met haar eksentrieke buurman, ’n wetenskaplike wat stamselnavorsing doen, is die ander belangrike verhouding in die roman. So ook haar verhouding met die tweeling se jeugvriendin, Puleng, Magdaleen se vriend, Zack, en natuurlik haar ma, Alida.

Die spanningselement word reeds in die proloog geskep. “Want daardie oggend was die doodsengel so naby dat sy sweerlik die ritseling van sy vlerke sou kon hoor as sy net geluister het. (bl 7) Die mediese aspekte is deeglik nagevors en loop hand aan hand met die spannings- en verhoudingsontwikkeling. Dit is ’n boek wat nie neergesit wil word nie. Trouens, ek lees juis vanoggend van ander wat, soos ekself, slaap ingeboet het.

Ek het doelbewus uitgestel om na Sidney Gilroy se gesprek met Zelda te luister totdat ek die boek klaar gelees het, maar het vandag die insetsel op Graffiti boeke baie geniet. Kyk en luister hier. Donderdagaand 9 September 2021 om 20:00 bied Boekemakranka ook ’n gesprek aan met die skrywer.

Die waarde van stil bure is uitgegee deur Kwela boeke, ’n druknaam van NB Uitgewers.