Ek is mateloos beïndruk met die gemak waarmee ons Romanza skrywers die fantasie sub-genre takel. Wat my laat wonder of die liefde in wese fantasie is? Maar voordat ek nou filosofies raak, laat ek eerder iets sê oor Magdaleen Walters se nuutse Romanza.

Ek hou van alles daaromtrent, van die mooi heldin, die treffende titel, die sagte voorblad, die beleefde, goedhartige held, tot by die ontknoping wat so sensitief is dat ek dit sommer twee maal gelees het. “Die dier in hom het ná hierdie nag saam met haar stiltevrede teruggetrek.” (bl 205).

Volpunte aan die skrywer vir die feit dat sy my aandag bladsy vir bladsy kon behou, al is ek nie ’n fantasie leser nie. Sy het daarin geslaag om romanse en fantasie perfek te verweef. Boonop het sy ’n ordentlike spanningslyn gehandhaaf, soveel so dat ek om die beurt vir die held en heldin se welstand gevrees het.

Eloise Clark se belewenis van die baron loop ’n interessante pad, vanaf dankbaarheid, bewondering, deur skok, afgryse, vrees, verwondering oor sy goedheid en terug na dankbaarheid wat sy nou erken as die “nogtans-liefde” waarvan die titel so ráák melding maak. Herinner nogal sterk aan Beauty and the beast. Ek sou bepaald gaan kyk het as dit ’n rolprent was.

Koop die gedrukte boek hier

Koop die E-boek hier