Die baie gewilde spanjoel, Willem, is terug in ’n nuwe bundel met drie van die vroeëre stories deur Elizabeth Wasserman. Hierdie uitgawe spog met die, nou reeds bekende, puik illustrasies deur Chris Venter, en drie boeiende avonture van die onverskrokke, bobaas pratende speurderhond en sy mens, Adriaan Senekal. En natuurlik is daar hoofkommissaris Servin wat vindingryke planne bedink om vir Adriaan en Willem op geheime sendings te stuur.

Wat my telkens opval wanneer ek Willem se avonture lees, is die onpretensieuse manier waarop die skrywer nuttige inligting vervleg met fantasie. Wanneer Willem en Adriaan op ’n ruimtereis gaan, word jong lesertjies blootgestel aan die effek van swaartekrag, aan pendeltuie, koppeling in die ruimte en vele ander interessanthede van ruimtevaart. Daar is ook ’n oulike hoofstuk van honde wat werklik deur Rusland in ruimtevaart gebruik is.

Tydens hulle missie na New York, lees ons van Central Park, 5th Avenue, die Vryheidstandbeeld en Manhattan, genoeg om lesers se nuuskierigheid te prikkel, sonder om die storielyn te oorheers. In die derde verhaal loop hulle hulself vas teen diamantsmokkelaars en raak dinge by tye gevaarlik vir Adriaan en sy hond.

Die skryfstyl is sodanig dat daar van vluglees geen sprake is nie. Ek het hierdie omnibus, soos die vorige een, van hoek tot kant gelees en terdeë geniet.

Uitgegee deur Tafelberg, ’n druknaam van NB Uitgewers, en beskikbaar by goeie boekwinkels en aanlyn.