Dagstukkiebundels bly immergewild, hetsy vir persoonlike gebruik of vir geskenke. Daar het inderdaad twee sulke boeke binne soveel weke op my lessenaar beland.

In die voorwoord maan die skrywer, Andries Cilliers, die lesers van hierdie bundel met die tema, vriendelikheid, om nie haastig met die boek om te gaan nie. Hy gaan so ver as om na elke sewe dae, ’n Blaaskans in te bou. Hy beskryf dit as “’n soort sabbatstyd… en bevat ’n oordenking wat jou hopelik sal help om tot rus te kom.” (bl 7) Ek het ná drie dae se dagstukkies, wat ek kontra die waarskuwing, heeltemal te vinnig deurgedraf het, besluit dat ek nodig het om briek aan te draai as ek werklik waarde daaruit wil put.

Hoewel die skrywer reeds agt boeke op sy kerfstok het, is ek nie bekend met sy skryfwerk nie, maar is aangenaam verras deur die aanslag en vloeiende taalgebruik. Vandaar die versoeking om bloot te lees, terwyl die sinvolle ding gaan wees om ’n wyle te vertoef by die skrifgedeelte wat elke dagstukkie inlei, en toe te laat dat die boodskap wat volg, behoorlik indring.

Die dagstukkies is verdeel in veertien temas was elk sewe dae beslaan. Alle aspekte van vriendelikheid, soos vriendelike hande, oë, hart en voete, word gedek, maar ook wat vriendelikheid nié is nie. Omdat daar geen datums aan die dagstukkies gekoppel word nie, hoef die leser nie onder druk te voel om elke dag te lees nie, maar eerder soos die behoefte en tyd toelaat.

Die boek word uitgegee deur LuxVerbi en is aanlyn en in goeie boekwinkels te kry.