Jan de Wet is ’n huishoudelike naam in Afrikaanse huise waar kinders grootgemaak is. Almal onthou die Loflaaities, die Lofkleuters en nog later die Groot Lofkleuter bybel. Luca, die relatiewe nuwe drukkersnaam van Lapa, het vandeesmaand die tweede Groot Lofkleuter bybel die lig laat sien, en watter mooie produk is dit nie.

Die teks deur Jan de Wet, en die volkleur illustrasies deur Elanie Bieldt waarborg dat kleuters, en selfs jong selflesers, baie gaan belangstel. Ek kan voorsien dat klein maatjies gretig gaan soek na die skoenlappers en duif wat by elke storie pryk. My persoonlike gunsteling is die spierwit, vriendelike skapies wat by ‘n paar stories te siene is. Dit is ‘n kleurvolle produk met lekker groot lettertipe wat dit gemaklik maak vir beginnerlesers, en as ’n bonus, ook vir grootouers wat voorlees.

Met hierdie produksie is daar bygehou met tegnologie. Weg is die plastiese vouer met die CD in. In plek daarvan is daar ’n QR-kode waarmee vyftig liedjies afgelaai kan word. Wenk: teken eers in op Lapa se webwerf, want dit is waar jy die oudio lêer gaan aflaai.

Ek dink hierdie boek sal ’n lieflike Kersgeskenk uitmaak. Geen fout daarmee om vroegtydig te dink aan geskenke nie.

Koop die gedrukte boek hier

Ook as ‘n E-boek beskikbaar, koop dit hier