Of ons dit wil glo of nie, Kersfees is reeds weer op die horison. ’n Pragtige nuwe boek met 200 dagstukkies klink vir my na ’n gawe geskenk idee om vanjaar se aankope vroeg-vroeg ’n hupstoot te gee.

Leef jou nuwe lied is ’n spanpoging van die immergewilde Elsa Winckler en haar suster, Sonja Goldberg, wat ’n pastoor is. Die woorde van Steffany Gretzinger, uit Letting go, is die perfekte aanhaling om mee af te skop: “Just when my hallelujah was tired, You gave me a new song.”

Die dagstukkies word gegroepeer onder twaalf temas oor hoé om te leef met ’n nuwe lied in jou hart. Leef vreesloos, leef liefde, leef en oorleef – om maar ’n paar onderwerpe te noem. Elkeen van hierdie temas word ingelei met een of meer treffende en toepaslike aanhalings van bekendes soos onder meer Nelson Mandela, Oswald Chambers en CS Lewis.

Die beproefde resep van ’n teksaanhaling, gevolg deur die gedagte en ’n gebed, word gevolg. Alhoewel die eerste dagstukkie handel oor Nuwe voornemens, soos tipies met Nuwejaar geneem, word die leser nie gebind aan datums of dae van die week nie. Die boek kan dus ter enige tyd en op eie trant gebruik word.

As jy hou van ’n inspirende dagstukkie om jou stiltetyd te komplimenteer, of kan dink aan ’n vriendin wat dit nodig het of sal waardeer, kry gerus hierdie Lux Verbi publikasie aanlyn of by ’n goeie boekwinkel.