Markus kyk na Alana en sien ’n beseerde, pragtige vrou met hartseer mosgroen oë, een wat hy ten alle koste wil help. Hy kry dit nie versoen met die professionele kubersekuriteitspesialis van die maatskappy wie se hulp ingeroep is om ‘n databreuk van sy argiteksfirma te ondersoek nie. Hy hanteer die situasie heeltemal verkeerd, en dit kos mooi praat en boete doen om vergewe te word.

Ek het hierdie romanse regtig baie geniet, goed geskryf en met ‘n heerlike storielyn vol afwisseling. Daar is persoonlike bagasie waaraan die hoofkarakters swaar dra, daar is selfs ‘n goeie skeut spanning wanneer Alana op die punt staan om diegene te ontmasker wat vir die databreuk verantwoordelik is.

Dit is ’n pluspunt dat die skrywer nie probeer het om vir haar lesers ’n kursus in kuberkrakery en ondersoek te gee nie. Die versoeking is altyd daar om te veel uit te brei oor beroepe en plekke, en die ontwikkelende verhouding tussen held en heldin ondergeskik te stel daaraan. In hierdie geval, en juis met ’n uitsonderlike beroep soos dié van Alana, het die skrywer daardie slaggat mooi gesystap.

Ek kan Een dag op ’n slag aanbeveel vir ’n lekker hartsverhaal om die winterkoue teë te werk, en gee graag vier sterre.

Koop die gedrukte boek hier

Koop die E-boek hier