Die milde bates van die model op die voorblad het byna veroorsaak dat ek die nuwe Romanza van Marie-Louise Cronjé nie gelees het nie. Wat ’n verlies vir my sou wees, want dit blyk toe ’n pragtige liefdesverhaal te wees. Allermins ’n hygroman, en boonop met ’n paar ernstige sake wat die sentrale storielyn ondersteun.

Danielle het gekies om haar liefde agter te laat en haar droom van internasionale roem te jaag. Nou is dit tien jaar later, haar pa is oorlede, sy was nie by sy begrafnis nie, en boonop moet sy vir Eckhard, die einste liefde van destyds, in die oë kyk. Die skrywer plant vroeg-vroeg die saadjie dat iets nie wel is met Danielle nie, en gebruik geduld om die verloop van die jare tussenin, en veral die laaste paar maande, geleidelik oop te skryf.

Ek was nie bekend met die skryfwerk van Marie-Louise Cronjé nie, maar ek hoop om nog van haar te lees in die toekoms. Ek gee vier sterre.

Koop die gedrukte boek hier

Koop die E-boek hier