Soms kom daar ’n boek oor jou pad wat die potensiaal het om, as ’n rolprent, kykers te boei en boonop na snesies te laat gryp. So het ek gevoel oor ’n Tyd om te dans, Lizelle von Wielligh se nuutste Romanza. Dit is gemerk as ’n inspirasie verhaal, en ek dink dit is juis daarom dat ek Christelle se verhaal in beeld voor my geestesoog sien afspeel.

In die openingstoneel, met haar dans op die maat van “Almost lover”, kom die leser agter dat Christelle haar droom van ’n balletskool verwesenlik het, maar haar jeugliefde verloor het. Dan volg ’n skokkende ongeluk wat haar laat met nog veel meer verlies. Christelle se depressie is goed gemotiveerd, ook haar selfverwyt oor die ongeluk as gevolg van haar laaste dans wat hulle later op die pad gebring het. Op hierdie punt wil ek noem dat ek meer sou wou sien oor haar verwerking van die skuldgevoel, omdat dit beslis ’n groot faktor moes wees in haar post-ongelukdepressie.

Omstandighede ná die ongeluk bring vir Wynand, die verlore jeugliefde, weer op die toneel en in konflik met die hooghartige ma, wat alle kontak tussen Wynand en Christelle verbied. Ek gaan nie die detail van die storielyn verklap nie, maar moet noem dat hy nie skroom om Christelle uit haar selfbejammering te skok nie. “Jou grootste verlamming lê in jou hart, nie in jou bene nie.” (bl 86)

Hierdie romanse het volop kinkels, teer oomblikke en uitdagings vir al die partye betrokke, en verdien vier sterre.

Koop die gedrukte boek hier

Koop die E-boek hier