Zander Malan herinner my sterk aan die held van Rina Cilliers se ’n Broodjie vir die liefde. Beide het ’n enigmatiese aantreklikheid en hou die heldinne en die lesers aan die wonder oor presies wié en wát hulle nou eintlik is.

Met sy, op die oog af, dominerende geaardheid, is dit te verstane dat hy en Lori Lategan ernstig gaan koppe stamp. Sy kom tewens op Skulpbaai aan om ’n nuwe lewe vir haarself uit te kap ná ’n leeftyd van onderdrukking deur haar pa, wat onlangs oorlede is. Sy skop viervoet vas as dit voorkom asof daar aan haar opdragte gegee word of namens haar besluite geneem word. Sy het self ’n hardkoppige streep en die vonke spat behoorlik.

Zander verdien punte met die feit dat hy nie skroom om verskoning te maak wanneer hy in haar oë verbrou nie, en ook vir die wyse waarop hy omsien na Lori se belange, al kom sy so in verset daarteen. Sy moet teen wil en dank erken dat sy Zander se hulp male sonder tal nodig het.

Ek kan waarborg dat romanselesers hierdie een baie gaan geniet, en dit verdien vier sterre.

Koop die gedrukte boek hier

Koop die E-boek hier