Ingrid kom met groot verwagtinge in Israel aan, om geskiedkundige plekke te sien én om aan argeologiese opgrawings deel te neem. Wat sy egter nie verwag het nie, was om ’n Noorweër te ontmoet wat haar hartklop laat versnel, maar wat getroud is.

Malene Breytenbach is ’n baie ervare skrywer wat, soos hierdie romanse getuig, beskik oor deeglike kennis van die beloofde land, Israel. Die geskiedenis, die omgewing, argeologie, die wrywing tussen Israelies en Palistyne en vele ander aspekte van hierdie interessante land word breedvoerig gebruik as agtergrond vir die verhaal, maar myns insiens, effens ten koste van die ontwikkelende verhouding tussen held en heldin. Soveel so dat hierdie storielyn hom maklik sou kon leen tot ‘n lywiger roman wat die detail gemakliker sou kon akkommodeer.

Hierdie romanse kom tot sy reg indien dit met sorg gelees word. As die leser nie geneë is om meer as die gewone tyd aan ’n romanse te spandeer nie, mag hierdie een dalk nie heeltemal gemaklik lees nie. Aan die ander hand, indien ‘n leser graag meer te wete wil kom oor Israel, sonder om vakboeke te raadpleeg, is hierdie romanse die antwoord.

Die romantiese ontknoping stel gelukkig nie teleur nie en romantiese siele sal nie verkul voel as hulle verby die magdom van agtergrondinligting kom nie.

Koop die gedrukte boek hier

Koop die E-Boek hier