Met Vadersdag net om die draai, het Julian Jansen se boek, reeds geruime tyd op my groeiende leeshopie, ernstig kom aanmeld. Reeds met die lees van die skokkende statistiek oor die samestelling van huishoudings in Suid-Afrika het ek besef dat die inligting in hierdie boek nie maklik verteerbaar gaan wees nie.

Julian Jansen, ’n oud-onderwyser, joernalis en skrywer van onder andere Die De Zalze-moorde, lig sy mening oor die afwesige pa toe deur eerlik en sonder skroom te skryf oor sy eie grootwordjare. Ook die belewenis van sy broer en sy ma, word ter inleiding gedeel. “My pa se skaduwee was oral om en oor ons ses kinders, soms allesversmorend. Hy was sowel die held as die skurk in sy gesin.” (Bl. 8)

Dit is ontstellend om te lees van die omvang van bendegeweld, tienerswangerskappe, drank- en dwelmgebruik en ander sosiale probleme, uit die mond van verskeie kenners wat die skrywer aanhaal. Die skrywer verwys na sy eie gideonsbende, mentors en kundiges wat ’n rol gespeel het in sy lewe, en praat met dankbaarheid daaroor dat hy en sy broers nie “skollies” geword het nie.

Daar is verskeie instansies wat belangrike werk doen onder jong seuns, dikwels uit vaderlose huise, asook onder gevangenes en diegene wat weer in die samelewing moet inpas na vrylating. Vir lesers wat genoop voel om betrokke te raak, of wat hulp verlang, is daar ‘n lys van name en kontakbesonderhede van sulke organisasies in die boek opgeneem.

Seuns sonder pa’s is uitgegee deur Lux Verbi.

Luister hier na ’n gesprek met die skrywer