Ek was gelukkig om twee van die Erasmus susters se stories direk na mekaar te kon lees, byna soos een lang romanse.

Skim, die geheimsinnige hond van Greyton, ’n paartjieknoper van ’n aard, het in Omdat jy die een is, sy visier ingestel op Karina Erasmus en Conrad Visser. Maklik het Skim dit nie, want hoewel Karina haar hart verloor het op Conrad, maak hy dit duidelik dat hy niemand se ever-after wil wees nie. Hy is glo nie troumateriaal nie, en oortuig daarvan dat hy nie betroubaar is nie.

Soos die verhaal vorder, kom mens agter waar sy diepgewortel weerstand teen ’n ernstige verhouding vandaan kom, maar dit weerhou hom nie daarvan om in elk geval vir Karina seer te maak nie. Ek hou van die manier waarop die verhoudings tussen die Visser broers en die Erasmus susters onderling oorgedra word, en Ma Alice met haar nugtere uitkyk en beskermingsdrang ten opsigte van haar dogters, is beslis ’n gunsteling karakter.

Koop die gedrukte boek hier, en die E-Boek hier

Kupido in ‘n hondelyf, by name Skim, is weer doenig in Omdat jy my gesoen het, hierdie keer om vir Debbie en Alec te pootjie. Soos in die vorige boek van hierdie reeks, is Ma Alice karaktergetrou en onversetlik in haar beskerming van haar dogters. Dit is vir my kostelik hoe sy die manne vasvat.

Wanneer Alec, die introvert en die linkerbrein wat alles in boksies wil organiseer, fokaliseer, moes ek telkens hardop lag vir die manier waarop Debbie sy geordende wêreld en gedagtes deurmekaar krap. Debbie, aan die ander hand is een wat praat en beweeg sonder ophou. Tewens, Alec kom gou agter die enigste manier om haar stil te kry, is om haar te soen.

Die Erasmusse en Vissers voel nou reeds soos ou bekendes. Met styl, dialoog en karakterontwikkeling is daar geen fout te vind nie. Aanhangers van vurige romanses gaan hierdie twee hormoongedrewe Romanzas beslis baie geniet. Persoonlik verkies ek romanses waar die sekskapades die storielyne nie so sterk domineer nie. Ek besef dat ek die risiko loop dat baie romanselesers van my verskil gaan verskil. Elsa Winckler het haarself immers al deeglik gevestig in hierdie genre as een van die gewildste en toegewydste skrywers.

Koop die gedrukte boek hier en die E-boek hier