Ek is gek na boeke en ek is versot op hekel. Gee my dus ’n boek met 50 hekelpatrone, en my oë blink en my vingers jeuk om iets te probeer! Christa Swanepoel kom ’n lang pad met Vrouekeur en Lapa, en hierdie boek is die keur van patrone uit die Hekel saam met Vrouekeur era. Die kleurfotografie van Elmarie Knapton laat reg geskied aan die voltooide skeppings.

Die eerste wat my opgeval het toe ek die boek oopslaan, is die tabel met mates vir musse. Dit besweer die alewige raaiwerk wat met die maak van ’n mus gepaard gaan. ’n Volle bladsy word afgestaan aan die afkortings en spesiale steke wat in die patrone gebruik word, wat baie handig is indien jy, soos ek, meestal van Engelse patrone gebruik maak.

Die patrone resorteer onder tien afdelings wat onder andere insluit huis en dekoritems, speelgoed, musse en hoede, en bykomstighede, om maar ’n paar te noem. Telkens word die dikte van die hekeldraad, die pengrootte en hoeveelhede duidelik aangedui.

Wintertyd is ideale hekeltyd (hoewel ek selfs in snikhete weer hekel!). Dit is dus die perfekte boek om nou in te belê en dalk sommer dadelik een van die komberse aan te pak, of ‘n warm mus of kledingstuk.

Die gedrukte boek kan hier bestel word