Ek het eenmaal ’n getuienis gelees van ’n persoon wat emosioneel herstel het ná verlies, deur te fokus op dít wat hy óór het, eerder as wat hy verloor het. Dit is dan ook waar Lucinda se verhaal afskop, met haar vriendinne wat haar probeer bemoedig om weer normaal voort te gaan. Isabel sê: “Ons gaan op positiewe dinge konsentreer, op die raaksien van wat jy nog het en dankbaar wees daarvoor.” (Bl 7)

Lucie het nie alleen haar man verloor nie, maar ook haar linkerarm. Terwyl haar eks, Etienne opregte berou het oor sy misstap, is sy nog lank nie by die punt waar sy kan vergewe nie, wat nog vergeet. Die skrywer hanteer die sensitiewe saak van amputasie en die gepaardgaande trauma, met omsigtigheid en insig. Sy raak ook aan die fyn lyn tussen hulp verleen en oorbeskermend wees; iets waarmee mense met ’n gebrek gereeld gekonfronteer word. Sy gee ook aandag aan die skade wat sulke trauma aan ’n persoon se temperament kan berokken.

Marilé Cloete se tipiese gemaklike skryfstyl en uitstekende karakterontwikkeling het my laasnag uit die slaap gehou, want ek moes opsluit uitvind waar die draaipunt gaan kom. Die ontknoping van die wipplank reis van vrede maak met ernstige fisiese en emosionele verlies, was presies waarvoor enige romanseleser kan hoop. Vier sterre van #amandinkso.

Koop die gedrukte boek hier

Koop die E-Boek hier