Binne die eerste hoofstuk maak Ilse Salzwedel, bekende joernalis en radiopersoonlikheid, die stelling dat elke mens ’n keuse het: wil jy floreer, of wil jy krepeer? Veerkragtigheid, in teenstelling met blote deursettingsvermoë, word gestel as die primêre eienskap wat nodig is om te floreer. Die skrywer gaan dan voort om op logiese, duidelik verstaanbare wyse nie alleen die eienskappe van veerkragtige mense nie, maar ook dinge wat veerkragtigheid aan bande lê, uit te lig.

Hierdie boek is geloofwaardig, want die skrywer deel openhartig oor trauma in haar eie lewe. Ander bekendes soos Raymond Ackerman, Yolande Korkie en Vanessa Goosen se ervarings word verhaal om die beginsel te illustreer dat veerkragtigheid die verskil is tussen bly lê of opstaan, ten spyte van. Die skrywer verwys ook ruimskoots na werk van internasionale kundiges op die gebied van veerkragtigheid.

Hierdie boek is uiters relevant in die veranderde werklikheid van ’n wêreldwye pandemie. “Pyn, mislukking en swaarkry is ’n gemengde seën; dit maak jou sterker, verander jou perspektief en laat jou groei. Geen slegte ervaring in die lewe is tevergeefs nie, mits jy bereid is om daaruit te leer.” (Bl. 193)

Vir die leser wat die uitdaging wil aanvaar om te floreer deur sy veerkragtigheid te oefen, (want ja, dit is soos ’n spier wat gekondisioneer kan word) verskaf die skrywer ten slotte ’n veerkragtigheidswerkboek met ruimte vir aantekeninge oor dankbaarheid, struikelblokke, moontlike oplossings, ’n SWOT-analise en plan van aksie.

Floreer is uitgegee deur Lux Verbi. Vier sterre van #amandinkso