Dit is nogal ambisieus vir ’n nuwe romanseskrywer om ’n reeks aan te durf, maar Louise van der Merwe was reg vir die uitdaging. Die reeks, Liefde in letters, het afgeskop met Kiekies en koffie. In Meimaand verskyn nog ’n titel wat net so lekker van die tong af rol, Mode en motors. Met ’n opvolgboek het die skrywer die voordeel dat ván die karakters reeds ontwikkel is, maar moet mooi loop om konsekwent met diesulkes om te gaan. Die skrywer gebruik dan ook suksesvol vir Christelle en Joshua as newekarakters, terwyl die klem verskuif na Nicola, ’n bedorwe rykmansdogter, en ’n motorwerktuigkundige met veel meer om te bied as hande vol ghries.

Die openingstoneel was besonder geslaagd. Stephan se eerste waarneming van die blonde skoonheid agter die stuur van ’n Camaro, klop uitstekend met die voorblad en die perfekte foto.

Die Steyns van Paradise Resortsfaam, haal hulle dogter totaal uit haar gemaksone, letterlik! Sy moet opsluit met ’n baie beperkte begroting en geen vaardighede, buiten haar modeontwerpe, in ’n eie woonplek haar heil gaan uitwerk.

Terwyl motors restoreer Stephan se passie en beroep is, het die skrywer nie in die strik getrap om die leser te bombardeer met feite daaroor nie. So ook nie oordadige vermelding van detail rakende die modebedryf nie. Die ontwikkeling van die karakters en hulle verhouding was primêr en baie geslaagd. Daarom gee ek gemaklik vier sterre.

Koop die gedrukte boek hier

Koop die E-boek hier