Die enigste rede waarom ek bietjie moes nadink oor die toekenning van sterre, is omdat ek half verward is oor die teikenmark van hierdie uitsonderlike boek uit die pen van Fanie Viljoen. Dit resorteer duidelik onder kinderboeke, maar die fyn humor en slim woordspeling mag dalk by jonger kinders verlore gaan, tensy ek hulle onderskat, bygesê. Volwassenes daarenteen, gaan lekker lees hieraan. Met so ’n wye lesersmark, moes ek tog volstaan by vyf sterre.

Die personifikasie is puik gedoen. Mieliepit is ’n bekkige troetelhoender wat in Bloemfontein in die huis van die Fouries woon. Sy skrik haar stertvere in ’n krullebol, sy kloekeloer en dweep oor die filmster Brad Pik. Maar haar briewe aan ene Liefsteling of Mieliepitjie is nie bloot stories oor die lewe saam met Jaco en Janet nie. Elke brief bevat ‘n belangrike lewensles oor dinge soos vrees, oneerlikheid en verlies, om maar ’n paar te noem.

Die briewe is uitstekende geleentheid vir ouers en kinders om te gesels oor die temas, aan die hand van die Pitkos (‘n tersaaklike Skrifgedeelte), Dink hieroor (vrae om die gesprek aan die gang te kry), Doen (iets om te maak, selfs konsert hou) en Gebed om die sessie af te sluit.

Briewe van Mieliepit is die eerste kinderboek uit die stal van Luca, die nuwe druknaam van Lapa Uitgewers. Dit is beskikbaar in gedrukte formaat, hier te koop. Ook as E-boek hier te koop.