Dit bly altyd vir my ’n openbaring hoe ’n stuk ontstellende geskiedenis lewend, maar verteerbaar gemaak word in die hand van ’n deurwinterde skrywer, een wat genoegsame mensekennis het en verhoudings verstaan. So is dit dan ook met Helene de Kock se nuutste historiese roman, Elisabet se oorlog.

Elisabet voer haar eie oorlog op persoonlike vlak en beleef ook die “Tweede Wêreldoorlog in Engeland, waar sy haarself vrywilliglik bevind nadat sy weggestap het van ’n huwelik in Suid-Afrika, voortgestu deur die herinnering aan ’n ander man. Die skrikwekkende detail van die Blitz, nagte in bomskuilings, die voedselrantsoenering, die sterk gees van die Engelse nasie, dit word alles verweef met die persoonlike lewe en verliese van Elisabet in London. Aangrypend is die ontdekking wat sy aldaar maak: “So is dit dan om lief te hê. Jy weet dinge wat jy liewer nie wil weet nie. En tog pas jou hart aan. Asof dit ’n nuwe ritme het.” (Bl. 106)

Benewens die feit dat die buiteblad esteties baie goed slaag, som dit die essensie van die verhaal puik op. Daar is verwysings na karakters uit die Debora-reeks, en ook Die kind uit die wingerd, maar hierdie roman kan ook alleen staan. Ek gee dit graag vyf sterre, en op ’n geleë tyd sal ek dit, saam met die vorige romans, weer wil lees wanneer ek nie haastig is om te sien hoe die verhaal gaan ontknoop nie.