Die uitsonderlike illustrasies van Carol Thompson verleen ’n magiese atmosfeer aan Dianne Hofmeyr se kleuterverhaal, Suidoosterdraak. Oupa en sy kleinkind gaan soek in ’n storm na drake, gewapen met ’n teleskoop en ’n skild. Hulle kom allerlei interessanthede teë, soos die draak se juwele, sy spore, ’n babadrakie en ’n seerowerboot.

Die vertaling deur Nandi Lessing-Venter is so knap gedoen dat ek byna nie kon dink dat die storie nie oorspronklik in Afrikaans geskryf is nie. Frases soos “Trippe trappe! Doef! Daf!” en “Mompel! Strompel! Wip! Spring!” kan baie kreatief deur ’n goeie voorleser gebruik word om kleintjies se aandag behoorlik vas te vang.

Die formaat is semi-glans, stewige bladsye in volkleur, en behoort klein handjies se aanslag goed te hanteer. ’n Goeie kopie vir ouers en grootouers met jong kinders in die huis.

Koop die gedrukte boek hier