Indien die titel en die voorblad van Ida Bester se nuutste Romanza by jou die indruk skep dat die verhaal om tuinbou en plante wentel, is jy inderdaad in die kol. Marileen is die eienaar van ’n kwekery, en sommer met die intrapslag loop sy haarself vas teen ’n sogenaamde Groen Skerpioen, oftewel ‘n inspekteur van Omgewingsake.

’n Traumatiese ervaring in haar studentedae het gemaak dat Marileen stewige skanse opgerig het om haarself te beskerm, maar Joubert laat hom nie afskrik daardeur nie; selfs nie wanneer sy vir hom haar hele verhaal vertel nie. Hy gebruik hulle gedeelde belangstelling in seldsame plante om haar vertroue, en uiteindelik haar hart te wen.

Altyd lekker om iets nuut te leer, selfs met die lees van ’n ligte romanse. Verwysings na spesies soos die kalanchoe, bromelias en indringerplante soos die swaardvaring, prikkel die belangstelling, sonder dat té veel detail die leser verveel.

Hierdie Romanza het in Desember 2020 verskyn, maar raap dit gerus op vir ’n lekker vars tema.

Koop die gedrukte boek hier

Koop die E-Boek hier