Die hoofkarakter, Martlie, in die nuwe Romanza deur Salma Swanepoel, het gesorg vir ’n kostelike leeservaring. Beide haar dikwels ondeurdagte uitsprake én dit wat sy nie hardop sê nie, het keer op keer verras. Sy maak glad nie verskoning vir haarself nie, soos wanneer sy haarself waarneem as ’n “kleurvolle parkiet tussen ’n ry stemmige African Grey-papegaaie.” (bl. 49)

Aanvanklik het ek gewonder of sy haarself sou kon handhaaf, maar algaande het haar sterk eienskappe al hoe meer na vore gekom en was sy allermins onbeholpe. Die klem was ook, anders as in talle romanses, nie soseer op die held nie. Eerder op Martlie se pogings om haar voete te vind in die vreemde kantooropset, tussen uitdagende karakters en ’n baas wat streng frons.

Die karakterontwikkeling, veral by die hoofkarakter, is beslis vir my die uitstaande kenmerk van hierdie romanse. Dit was ook verfrissend dat daar nie ’n tradisionele liefdesdriehoek geskep is nie, hoewel daar beslis ernstige belangstelling was van ’n tweede man, boonop vriendelik, minus die frons. Doodgewone goedheid en onbaatsugtigheid kry aandag, en die leser word nie belas met té veel negatiewiteit nie. Ek glo hierdie storie sal byval vind by liefhebbers van lekkerlees romanses.

Koop die gedrukte boek hier

Koop die e-boek hier