Die voorwoord vertel ’n hoendervleis storie ágter hierdie storie. Ronelle Uys het ’n onvoltooide manuskrip nagelaat toe sy aan kanker oorlede is in 2019. Haar dogter, Lisa Gunter, het vir Alta Cloete gekontak en die afloop van daardie koffie-kuier is die Romanza wat ek sopas gelees het. Alta het die storielyn behou soos Ronelle dit geskryf het, slegs afgerond en gereed gekry vir publikasie.

Die verhaal van Miela en Johannes het vyf jaar vantevore in Vegas begin. Die kruks van die probleem waarrondom die storie gebou is, lê in Miela se opvatting, soos verwoord op bladsy 30: “Daar is nie in Vegas plek vir die werklikheid van ware liefde nie. Alles is illusie, alles is tydelik.” Dit is hierdie idee, waaraan sy verwoed vasklou, wat vir Johannes uiteindelik na desperate strooihalms laat gryp om tot haar deur te dring. Die titel is in die kol, want dit sê so mooi wat Johannes se verwagting is van die verhouding wat maar net nie weer op dreef wil kom nie.

Interessant dat daar onlangs nog ’n Romanza verskyn het oor ’n boer en ’n binneshuisversierder! Dit is ’n tema wat sommer baie lekker lees, en vier sterre verdien.

Koop die gedrukte boek hier

Koop die e-boek hier teen ‘n afslagprys