Ek het twee boekies van die Keegan en Samier-reeks onlangs voorgelees vir my kleindogters van 6 en 8 jaar. Dit het hulle aandag genoegsaam gehou sodat hulle niks wou weet daarvan dat ek dit in aflewerings doen nie. Beide kon enduit byhou met die storielyn, en het geldige vrae gevra.

Die derde boek in die reeks, is Die strokiesprent-kompetisie. Tipies seun, is Keegan en sy vriend, Samier, mal oor superhelde. Die strokiesprentboeke oor Ninja Wolf is ’n groot gunsteling. Wesley Davids, die skrywer en illustreerder, kom hulle skool besoek, en hierdie senario bied aan die skrywer van die reeks, André Trantraal, ’n gulde platform om die kwessie van heldeverering aan te spreek. Ander sake wat onder die loep kom en storiegewys aan die kinders oorgedra word, is boeliegedrag en oneerlikheid. As teenvoeter vir die negatiewe gedrag, gebruik die skrywer Samia se onselfsugtige opoffering van haar prys, en die mooi vriendskap tussen die kinders.

Die vierde in die reeks oor vriende Keegan en Samier, is getiteld Die nuwe vriend. Dit fokus op ‘n hele paar kwessies wat aktueel is vir kinders van laerskool ouderdom. Daar is die stewige band tussen broer en suster, Samier en Samia, soveel so dat Samier homself onvoorwaardelik by haar skaar toe daar konflik ontstaan toe ’n nuwe dogter by die klas aansluit. Selfs al belemmer dit die verhouding met sy vriend, Keegan.

Die volgende belangrike saak is jaloesie en kompetisie. Samia tree vyandig op teenoor Alysha, wat haar uitstof in atletiek en skoolwerk. Juffrou Adams moet ingryp om aan Samia te verduidelik dat haar optrede nie reg is nie.

Die boeke is geoormerk vir kinders van 7+, maar my kleindogter van ses kon heel goed volg. Die feit dat dit in die eerste persoon vertel word, het haar egter effens verwar, en ek het dit duidelikheidshalwe na die derdepersoonverteller omgeskakel.

Beide teks en illustrasies is die kunstige werk van André Trantaal, en dit word uitgegee deur Lapa, wat tans uitverkopingpryse aanbied.

Koop Die strokiesprent-kompetisie hier in gedrukte formaat.

Koop die E-boek hier

Koop Die nuwe vriend in gedrukte formaat

Koop die E-boek hier