Nellie Alberts moet ’n redelike kenner wees, of deeglik navorsing gedoen het, want in haar nuutste Romanza is haar heldin, Saranie, ’n plantkundige wat ’n impakstudie doen in die Roggeveld, waar ’n nuwe pad gebou word. Dit is dan ook in hierdie unieke milieu waar sy die held, Maynard ontmoet en die vonke deeglike en onmiddelik spat! Dit verskaf ook nogal ’n vars agtergrond waarteen die romanse kan afspeel, anders as plase, wat heel dikwels gebruik word. Die veteraanmotor, haar Ford Bronco, is ook ’n interessante aspek wat bygewerk word.

Saranie is nie ’n hulpelose heldin nie, allermins. Dit is ook juis hierdie eienskap wat vir Maynard opval.

Ek kan geen fout vind met die skrywer se gemaklike skryfstyl nie. Sy gebruik byvoorbeeld in haar gedagtes baie kreatiewe byname vir Maynard en spreek hom nooit direk aan nie, iets wat my telkens laat glimlag het en hom verwonderd gelaat het toe sy hom uiteindelik op die naam noem. Sy werk ’n redelik geslepe antagonis se streke gladweg by die storielyn in, en as leser was ek sommer van vroeg af op hete kole oor natuurverskynsels waarvan leidrade gegee is en wat net gewag het om moeilikheid vir die heldin te maak.

Ek is redelik seker dat romanselesers hierdie een sal geniet.

Koop die gedrukte boek hier

Koop die E-Boek hier, tans teen ‘n afslagprys