My grootste (en enigste) beswaar teen hierdie nuwe blokraaiversameling, is dat ek glad nie weet waar om te begin nie! Takel ek dit van nommer een af, of kies ek uit die vele interessante variasies op die standaard blokraaisel?

Buiten die verskillende weergawes van die volbladraaisels, met en sonder fotoleidrade, is daar selfs sudoku’s by sommige blokraaie geïnkorporeer. Twee vlieë met een klap vir diegene wat van beide tipe uitdagings hou. ’n Ander interessante weergawe is waar die antwoord op ’n vraag in sirkels ingevul moet word, welke vraag enigiets kan wees van die naam van ‘n persoonlikheid, tot ’n skrywer, selfs idiome.

Van die ou gunsteling, met die standaard dwars en af leidrade, is daar ook genoeg om jou lank besig te hou. En sou daar iewers ’n woord wees wat jou bly ontduik, is daar gelukkig ook oplossings agter in die boek.

Hierdie heerlike ontspanning, wat boonop goed is vir breinfiksheid, word uitgegee deur Lapa, en is reeds die derde versameling van een honderd elk. Dit is betyds beskikbaar vir die komende skoolvakansie wanneer ouers en kinders dalk saam kan kop krap met die raaisels.

Bestel direk by Lapa by hierdie skakel