Met ’n grootouer soos ouma Mollie en ’n hond wat met haar praat, word ’n doodgewone sonskynmiddag skielik vir Nina ’n dag om te onthou. Die uitstappie wat Fanie Viljoen so prettig verhaal in sy nuutste kinderboek, is propvol humor. Ouma Mollie wil opsluit haar nuwe baaikostuum in die see gaan uittoets en pak ’n senutergende rit aan met Spokie, haar karretjie wat al “bietjie gekrok” is.

Johann Strauss doen weer sy reputasie gestand as uitmuntende illustreerder, en die bladuitleg gaan die leeservaring vir 9jariges en ouer, beslis verhoog. Trefwoorde soos “Visko-oe-oe-ki”, ’n ” moewiese” duik, “skwiek” en “whop” is byvoorbeeld in ’n ander lettertipe en kleur gedruk. Alles, van die hoofstuktitels, tot die teks, getuig van die skrywer se slag met woorde en sy vermoë om ’n situasie te skets sodat oud en jonk onwillekeurig moet glimlag: ” Mense spat weg voor ouma Mollie. Kinders vlug uit die vlak water.” (Bl. 38)

Ek het die storie geniet en sien uit daarna om my kleinkinders se reaksie te beleef. Die boek is deur Lapa uitgegee.

Koop die E-Boek hier

Koop die papierboek hier