Die gewildheid van fantasie as genre, moes noodwendig ook oorspoel na Afrikaans. Lapa Uitgewers en Romanza het vir Frenette van Wyk die geleentheid gegee om ’n Fantasie Romanza te publiseer. Hoewel ek geen kenner op hierdie gebied is nie was ek nuuskierig om te sien wat sy gaan maak met die uitdaging. Die voorblad is pragtig, met ’n duidelike gevoel van misterie. Die titel, Onmoontlike droom, eggo die gewaarwording dat dié storie anders gaan wees as die standaard romanse.

Die verhaal skop af in ’n begraafplaas, wat reeds ’n bepaalde atmosfeer skep. Chloé is oortuig dat haar pa verantwoordelik was vir haar ma se dood, en haar koms Frankryk toe is met die uitsluitlike doel om haar te wreek op mans, en om haar ma se nagedagtenis as kabaretster by die Moulin Rouge te herstel.

Nie gedink ek sal in ‘n Romanza lees van moorde, agtervolging en ‘n enigmatiese Fransman wat blitsvinnig beweeg, klaarblyklik haar gedagtes kan lees en opduik wanneer sy hom nodig het nie. Om nie te praat van ander grusame detail wat ek nie gaan verklap nie! Wees getroos: die liefde seevier des nie teen staande. “Haar hart keer om, en sy sien fassinerende sterlig in sy oë. Liefde is sterker as enige donker magte.” (Bl. 205)

Die gebruik van Engelse woorde het my bietjie gepla en een ster gekos, juis omdat dit nie as ‘n reël gebeur in Romanzas nie. Nogtans ‘n boek wat ek sal aanbeveel vir ‘n romanseleser wat lus het vir iets nuut.

Koop die E-Boek hier

Koop die papierboek by onderstaande skakel