Ek het sopas die laaste van die 21 aangrypende stories gelees in Hekel en word heel 2, dié van Cindy Matthee. Ek is diep geraak, want ek het haar persoonlik ontmoet by ’n hekeldag van die einste Anja Trooskomberse waarvan sy getuig het in haar gepubliseerde brief. Ook by geleentheid met Sophia Kapp en Madelie Human kennis gemaak. Die fotograaf, Pierre van Niekerk, wat gesorg het vir die besondere foto’s in die pragboek, ken ek ook reeds baie jare.

Hierdie raakpunte met die boek deur Nadia de Kock, Hilda Steyn en Jessica Haasbroek, stem my uiteraard nogal emosioneel. Terwyl die terapeutiese effek van hekelwerk die één samebindende element is, het dit my getref hoe eerlik die mense gesels het oor groot trauma in hulle lewens. Verder het dit my met groot dankbaarheid gevul omdat sulke aardskuddende dinge tot dusver by my verbygegaan het.

Ek wil die ontwerpers gelukwens met lekker uitdagende, maar haalbare hekelpatrone. Veral met die oog op die winter wat op hande is, is daar ‘n heerlike verskeidenheid van snoedels, baadjies, serpe, tjalies en ander items wat koue buite kan hou. Die omvattende lys van hekelterme, die tabel oor jaarn-gewig en die instruksies vir die neem van mates vir kledingstukke, is van groot waarde vir die hekelentoesias.

Hierdie Lapa publikasie is weer ‘n goeie kombinasie van hoopvolle lewensverhale en die praktiese uitlewing van ‘n passie met behulp van inligting en patrone. Dit verdien vyf sterre.

Koop die boek hier