Human & Rousseau is bekend daarvoor dat hulle kinderboeke van uitstaande gehalte uitgee, en Lucy Bell se Jy kan die wêreld verander, is geen uitsondering nie. Fanie Viljoen het met sy bewese vaardigheid die teks in Afrikaans vertaal. Die teikengroep is kinders van 9-12 jaar, maar ek het sommer met die eerste lees geweldig baie geleer oor ’n wye verskeidenheid onderwerpe. Trouens, dit was slegs die verwysing na ouers, skole of onderwysers, wat my kort-kort herinner het dat dit eintlik ’n kinderboek is.

Die doel van die boek is om te illustreer dat klein veranderings ’n groot verandering aan ons planeet kan maak. Herwinning en plastiekbesoedeling is dalk voor die hand liggend, maar die skrywer wys byvoorbeeld dat die oormatige gebruik van palmolie die habitat van orang-oetangs vernietig, en dat geel, blou en pers blomme bye, wat noodsaaklik is vir bestuiwing, lok.

Daar is baie nuttige wenke, instruksies en selfs resepte, alles met die beskerming van die aarde in gedagte. Na dese verstaan ek hoe om ’n komposhoop te maak, en watter plante volson, halfdagson en geen son vra.

Daar word ook ’n paar bladsye afgestaan aan die adresse van webtuistes van organisasies, winkels en ander bronne wat eko-vriendelike produkte of aksies bevorder. Moet egter nie vrees dit sal lees soos ’n vervelige handboek nie. Die teks is kreatief en die illustrasies kleurvol; ’n plesier vir oud en jonk om deur te werk.