Romanza skrywer, Didi Potgieter, het met die Parkers bewys dat sy kan kophou met ’n lang reeks. Nou is daar ’n nuwe reeks uit haar pen, wat die potensiaal toon om lesers gretig te laat uitsien na elke nuwe aflewering.

Die nuwe reeks skop af op Steely Hills, Colorado, waar die leser kennis maak met die eienaar van die beesplaas en lodge, George Williams, en Melinda, ’n lid van die baie suksesvolle country trio, Steely Sisters. Ek sou die romanse byna wil herdoop na Hart van klip, want George het syne verhard om sy gevoelens vir Melinda te systap. Gelukkig het Mel ’n hart van staal, wat sterk genoeg was om vir baie jare haar liefde vir George te dra, selfs al het sy nie hoop gehad vir ’n toekoms as sy vrou nie.

Die storielyn van Hart van staal ontwikkel rondom George se onwilligheid om liefde ’n kans te gee, ten spyte van sy sterk gevoelens vir Melinda. Op haar beurt, sukkel sy met gevoelens van ontoereikendheid, al is sy talentvol, pragtig en suksesvol.

Met haar gewone gemaklike skryfstyl, slaag die skrywer om die rolspelers vinnig na ou bekendes te laat voel. Meer as een troue, sorg vir oorgenoeg romantiese oomblikke, en daar word reeds subtiel wenke gegee oor die volgende aflewering se hoofkarakters.

Koop die papierboek hier

Koop die E-boek hier

In Hart van ys is Emily Williams die hoofkarakter. Op die oog af is sy die koel en selfversekerde lid van die Steely Sisters, maar met die verloop van tyd begin sy haar destydse besluit om Steely Hills, en Louis, die kroegman, agter te laat, bevraagteken. Die vernietigende en langdurige effek wat ’n swak voorbeeld van ’n ouer kan hê op ’n kind, is die spil waarom Emily se, dikwels kil, optrede draai. Sy word later gedwing om te erken: “As sy ’n buitestander is, is dit omdat sy self mense buite gehou het.”(Bl. 180)

Louis is ’n held waaroor menige leser gaan swymel. Sy liefde vir Emily het nooit verander nie, selfs nadat sy weggestap het uit hulle verhouding. “In sy arms is die vrou na wie hy nog altyd verlang het. Die een wat hy altyd sal liefhê.” (Bl 193) Voorspelbaar? Natuurlik, maar dit is mos presies wat die voelgoed emosies by lesers veroorsaak.

Die storielyn van hierdie tweede aflewering in die nuwe reeks, is meer kompleks as die eerste, met onder andere ’n geding om die publikasie van ’n boek te verhoed en die geheimhouding van Louis se suksesvolle beroep. Ek sien uit na die komende sages van Steely Hills se mense.

Koop die papierboek hier

Koop die E-boek hier