Comine Verbeuk verloor beide haar ouers, haar selfvertroue en haar inspirasie om te skryf. Om nie te praat van haar geloof in die manlike geslag nie, wanneer sy uitvind dat haar verloofde ’n opportunistiese skelm is. Sy aanvaar ’n pos by ’n skrywer op ’n afgeleë plaas naby George en verdwyn van die radar af.

Die mense van Seekamee aanvaar haar vinnig as deel van die gesin, maar dit is die “Noorman”, oftewel die seerower, die visserman, die kok of welke verkeerde aannames sy maak oor Sven, wat haar aanraak soos nooit tevore nie. ’n Kroasiese legende oor ’n broodjie wat gebak word vir ’n geliefde, weef die skrywer soomloos in die verhaal in, en kies dit ook vir die titel van haar tweede Romanza.

Soos in haar eerste Romanza, het Rina Cilliers se gemaklike skryfstyl en fyn humor my heerlik aan die lees gehou. Wanneer Comine verbrou, voel sy byvoorbeeld “soos ’n hond wat die verkeerde inbreker se been gebyt het.” (bl.177). Sonder oordrewe beeldspraak en byvoeglike naamwoorde, skets die skrywer die omgewing baie duidelik: “In teenstelling met die ruwe rotse teen die berg wat deur die wind verweer is tot skerp punte wat lug-in stoot, spikkel die ronde klippe op hierdie oop strand.”(bl. 161)

Druk hierdie boekie gerus in jou strandsak as jy dalk só ’n stukkie paradys mag besoek in die komende vakansietyd.

Koop die papierboek hier

Ook as E-boek beskikbaar