Dit is interessant dat skrywers graag die seisoene gebruik as inspirasie vir stories en boonop heel kreatief omgaan met die titels daarvan. Marilé Cloete se nuutste Romanza is die vierde in die reeks wat begin het met Hoogsomerliefde, gevolg deur Nooit weer winter en Vir altyd lente. Herfsmelodie se titel is in die kol, gegewe die beduidende rol wat die musiek van die ou rocksterre en countrysangers in die verhaal speel.

Ek was verras oor hoe vinnig die vriendekring wat die karakters uitmaak van die reeks, soos ou bekendes gevoel het toe die liefdesverhaal van Sunet en Bertie homself begin uitspeel. Maar selfs as jy die vorige drie boeke nie gelees het nie, verskaf die skrywer genoeg tersaaklike inligting om die hierdie romanse op sy eie te laat staan.

Soos ons van hierdie ervare skrywer kan verwag, skram sy nie weg van moeilike onderwerpe soos depressie en selfdood nie. Ingewikkelde ouer/kindverhoudings word ook aangeraak. Om die sukses van die romanse te waarborg, is daar natuurlik die nodige voelgoedoomblikke en die gelukkige einde.

Herfsmelodie is as E-Boek beskikbaar

Koop die papierboek by onderstaande skakel: