Toe Speurhond Willem aanvanklik sy opwagting gemaak het in 2010, was ek in niemandsland wat betref kinderboeke, die tyd iewers tussen my eie kinders en my kleinkinders. Wis ek toe niks van ’n spanjoel wat eintlik ’n lid is van die internationale speurdiens nie, en ’n persoonlike vriend van die hoofkommissaris Servin. Ook nie van sy baas, die valerige seuntjie, Adriaan.

Willem se avonture in Australië is die sewende in die reeks deur skrywer, Elizabeth Wasserman en weereens treffend geïllustreer deur Chris Venter. Adriaan is bekommerd, want Willem is reeds drie weke weg, en dít sonder om hom saam te neem. ’n Bietjie speurwerk van sy kant af, tesame met ’n brief van die Britse koningshuis wat aan Willem geadresseer is, oortuig vir Adriaan dat Willem in Australië is.

Daar is oorgenoeg elemente om die lesertjies se belangstelling te behou: struikrowers, ’n voortvlugtige skelm, ’n internasionale kookkompetisie. Die unieke diere en landmerke van Australië word slim met die storie verweef, sodat die kinders ook iets van die land kan leer, terwyl die fantastiese storie homself afspeel.

Die boek is geskik vir lesers van 6-9 jaar en word uitgegee deur Tafelberg, ’n druknaam van NB Uitgewers en is beskikbaar by boekwinkels en aanlyn. Grafitti Boeke bied dit aan teen ’n lekker afslagprys.