‘n Bekende gesig, maar vir Hykie Berg het ek nie leer ken as akteur, sepie-ster, motiveringspreker of Survivor wenner nie. Eerder tussen die blaaie van sy boek, My storie van Hoop. Dié het ek ook eers geruime tyd nadat dit vrygestel is, gelees. Sien my lesersindruk daaroor

My stryd met ADHD is Hykie se tweede boek. Hy herhaal ter wille van konteks, sy stormagtige kinder- en jeugjare, sy verslawing aan drank en dwelms en uiteindelike “rock bottom” wat hom geneem het na die Geslote Wyk 71 in Weskoppies. Daar moes hy, manies en psigoties, skouers skuur met kriminele, wrede en skisofreniese misdadigers.

Wat hierdie boek onderskei van die eerste, is sy insig in ADHD as industrie, die gebruik en misbruik van medikasie. Die uitwerking en gevare van die bekende middels wat voorgeskryf word vir ADHD en ander geestesongesteldhede, neem hy onder die loep en deel erg verontrustende feite. My gevoel is dat ouers van hetsy jong kinders of studente, hierdie eerlike en skokkende getuienis rakende die gebruik van skedule 5 en 6 medikasies moet lees alvorens daar besluit word op toediening van hierdie middels wat so vrylik beskikbaar geword het. ADHD is natuurlik nie beperk tot kinders nie, dus kan dit met vrug gelees word deur enigiemand wat te doene kry met hierdie toestand.

Die waterskeiding in sy lewenslange stryd het vir Hykie gekom toe hy vir Jesus Christus as verlosser aangeneem het. Vir die eerste maal kon hy begin glo dat hy goed genoeg is en homself begin liefhê. “Jy is nie ’n slagoffer van jou geestesgesondheid nie. Jou identiteit lê in Christus en Hy het die laaste sê oor wie en wat jy is.” (Bl. 182) Steeds moes hy baie medikasie neem, maar kon niks gebruik vir ADHD nie. Gevolglik het die tipiese patroon van kort-kort ’n nuwe projek aanpak, en die daaglikse stryd met die simptome voortgeduur, hoewel hy nou ’n missie gehad het om ander te vertel van Christus en só hoop te gee.

Die tweede belangrike faktor is die natuurlike aanvullings wat hy begin gebruik het. Na twee maande het sy gemoedstoestand begin verbeter, na nege maande kon hy alle medikasie staak.

Lees gerus die hoofstuk oor Agt lewensveranderende beginsels aandagtig deur. Dit verskaf waardevolle geloofs- en lewensbeginsels. Die boek word uitgegee deur Lux Verbi en is beskikbaar in boekwinkels en aanlyn.