Ek is vanoggend op ’n snaakse plek, en dit het niks te make met die feit dat dit koud en grillerig is op die tweede dag van lente nie. Nou wonder ek, wie was al daar? Daar waar jy op ’n dag besef dat jy vir baie uiteenlopende dinge “ja” gesê het, of baie dinge onderneem het. Toe verander omstandighede, jy verander, mense om jou verander. En op ’n dag soos vandag, besef jy dat jy te min ure het, te min energie het, te min dryf het, om by alles uit te kom waartoe jy jouself verbind het.

Wat eerste in die slag bly, is jou vrede. Dit is sekerlik nie toevallig dat die YouVersion Bybelleesplan* wat ek tans volg, juis vandag hierdie kwessie aanspreek nie.

As Jesus die storm op die see kon stilmaak, wil ek vertrou dat Hy ook die onrustigheid in my gemoed kan besweer, as ek Hom vra. Hy belowe immers in Johannes 14 vers 1: “Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My.”

*Peace… is a Person, deur Robin Meadows. Lees dit by https://www.bible.com/