Met die lees van die treffende eerste sin van Somtotaal, het skrywer, Anchien Troskie,  my volle aandag gehad. Ook daarin geslaag om dit einduit te behou. Terwyl die aanvangsparagrawe dit duidelik gemaak het dat daar verwydering was tussen Ester en Nonthando Majolo, haar hartsuster, ontknoop die skrywer met geduld en dissipline die geheime en drama van die verskillende karakters en hulle verhoudings. My teorieë oor die aard van die skuld wat vir Ester uitmergel, is almal uiteindelik verkeerd bewys.

Die somtotaalstruktuur van die storielyn was goed beplan en ingedeel onder afdelings wat uiteindelik die lewensloop van Milagro, Nonthando se dogter, perfek opsom: vrees, verlies, verandering, vernedering, verdriet, vrede, vreugde. Dit was vir my realisties dat vrede vreugde moes vooruitgaan, want sonder vrede oor die verlede is vreugde, myns insiens, nie moontlik nie.

Die verhaal het baie te make met die toestande in die apartheidsera, maar spoel oor na die post-apartheidstyd. Ek gaan myself nie begewe in politieke kommentaar nie, want die emosionele stryd binne die onderskeie verhoudings, is dié aspek wat my die meeste aan die hart gegryp het. “Almal het ’n geheim, ’n skande, ’n vernedering of ’n verwerping wat soos ’n doring in die vlees sit.” (Bl. 185)

Die skryfstyl is ongeforseerd en eerlik. Ek het wel gewens dat ek die Xhosa kon verstaan, want die paar sinne hier en daar, die uitroepe of vermanings, is waarskynlik ryker as wat my afleiding telkens was. Dit was egter nie steurend nie. Ek dink dat hierdie ’n boek is wat ’n tweede lees regverdig en gee gemaklik vier sterre.