Hoewel gereelde huwelike die norm is in Engeland in die 1820’s, skop die eiesinnige Emmalynn teen die voorgestelde huwelik met Edmund Blackmore. Dié ongure karakter het sy wellustige oog op haar en haar groot bruidskat. Dan kom die spreekwoordelike ridder op ’n wit perd tot haar redding, in hierdie geval ’n graaf op ’n swart hings. prinsesBenjamin Worthington word ook voor ’n ultimatum gestel om te trou en die familiesake oor te neem. Hy is egter nie van voorneme om te trou met Marjorie Elkins nie, hoewel sy en haar ma, Beatrice, dit as vanselfsprekend aanvaar.

Ben se besluit om met Emmalynn te trou, maak gedugte vyande van Marjorie, Beatrice en natuurlik Edmund. Dit sorg vir ’n spanningslyn wat regdeur die verhaal loop. Struikrowers en venynige skindertonge, dra ook by tot die konflik.

Ben is ’n held duisend, altyd byderhand om Emmalynn te beskerm. Teen die einde van die storie was ek egter gereed om ongeduldig te raak met hom wanneer hy geen benul het hoe om sy emosies te hanteer nie. Die karakters is deurgaans goed ontwikkel, en Henri is een van my gunstelinge.

Hierdie was Corné van Rooyen se eerste SuperRomanza en het reeds aan die einde van 2019 verskyn. Na ’n paar boeke met swaarder tema’s, het ek baie lekker gelees aan hierdie liefdesverhaal.