’n Byna engelagtige kind op die voorblad; ’n poëtiese titel met die klank van bewondering. Hierdie elemente het my aanvanklik gelok na Ben Viljoen se tweede roman. Die openingstoneel met sewe kinders wat in die koue by ’n oop venster wag, ’n wegkomplek vir wanneer ’n pa huis toe kom; die daaropvolgende geweldadige toneel wat die ma en die hele kombuis gebreek laat. Dit het my byna ontneem van moed om verder te lees.

Tog was daar iets aan die verhaal van die Welman gesin, soos vertel uit die oogpunt van die oudste seun, Bennie, wat so aangrypend was dat ek my vooropgesette idees moes hokslaan en hulle omswerwinge volg vanaf Simmer Deep, Nkunziwaar die verhaal afskop in 1960, deur Alberton, die plaas Palmietfontein, terug na Alberton. Die taalgebruik is kru, maar dit strook heeltemal met die karakters. Selfs die kinders se taal reflekteer dit wat hulle van kleins af hoor. Die armoede, ellende, drankmisbruik en gesinsgeweld ruk ’n mens aan die hart.

Dit was interessant dat die gewelddadige, drankverslaafde Bernard ’n begaafde musikant was met ’n liefde en kennis van goeie musiek, ’n onwaarskynlike eienskap wat dui op ’n tyd in sy lewe voordat dinge so skeef geloop het. Dit is dan ook deur die musiek wat daar ’n mate van aanklank is tussen Bennie en sy pa. Helaas bring Bennie se nuwe musieksmaak van later jare, verdere verwydering teweeg.

Die duiwe was nog ’n raakpunt tussen Bennie en sy pa, soos wanneer sy pa vir hom in die bres tree teenoor sy venynige ouma.

In ’n onderhoud met Boekemakranka, het skrywer Ben Viljoen gesê dat hy al terugvoer gekry het dat Nkunzi nie strykdeur aangename leesstof is nie, en ek wil saamstem. Ook wanneer hy sê dat dit “hopelik goeie leesstof” is. As jy kans sien vir die hou in die maag, soos die agterbladteks die verhaal opsom, koop dit gerus. Staal jouself dan om beurtelings verskrik, geskok, aangedaan en onthuts te word.